×

We use cookies to help make LingQ better. By visiting the site, you agree to our cookie policy.

Poems, Die Stem van Suid-Afrika – Text to read

Poems, Die Stem van Suid-Afrika

Intermediate 1 Afrikaans lesson to practice reading

Start learning this lesson now

Die Stem van Suid-Afrika

Uit die blou van onse hemel,

Uit die diepte van ons see,

Oor ons ewige gebergtes

Waar die kranse antwoord gee

Deur ons vêr-verlate vlaktes

Met die kreun van ossewa –

Ruis die stem van ons geliefde,

Van ons land Suid-Afrika

Ons sal antwoord op jou roepstem,

Ons sal offer wat jy vra

Ons sal lewe, ons sal sterwe –

Ons vir jou, Suid-Afrika

In die murg van ons gebeente,

In ons hart en siel en gees,

In ons roem op ons verlede,

In ons hoop op wat sal wees

In ons wil en werk en wandel,

Van ons wieg tot aan ons graf –

Deel geen ander land ons liefde,

Trek geen ander trou ons af

Vaderland! Ons sal die adel,

Van jou naam met ere dra

Waar en trou as Afrikaners –

Kinders van Suid-Afrika

In die songloed van ons somer,

In ons winternag se kou,

In die lente van ons liefde,

In die lanfer van ons rou

By die klink van huw'liks-klokkies,

By die kluit-klap op die kis –

Streel jou stem ons nooit verniet nie,

Weet jy waar jou kinders is

Op jou roep sê ons nooit nee nie,

Sê ons altyd, altyd ja

Om te lewe, om te sterwe –

Ja, ons kom, Suid-Afrika

Op U Almag vas vertrouend

Het ons vadere gebou

Skenk ook ons die krag, o Here!

Om te handhaaf en te hou –

Dat die erwe van ons vad're

Vir ons kinders erwe bly

Knegte van die Allerhoogste,

Teen die hele wêreld vry.

Soos ons vadere vertrou het,

Leer ook ons vertrou, o Heer –

Met ons land en met ons nasie

Sal dit wel wees, God regeer

Learn languages from TV shows, movies, news, articles and more! Try LingQ for FREE